Hoe om u huis te beveilig en gesin te beskerm teen 'n gewelddadige aanval.

in #oorlewing7 years ago (edited)

Leef Voorbereid - Hoe om u huis te beveilig

Baie mense leef in vrees vir 'n gewelddadige aanval, terwyl ander met die emosionele en fisiese letsels saamleef nadat hulle reeds in hul eie huise aangeval is. Die werklikheid is dat misdadigers enige huis kan aanval, dit maak nie saak of dit 'n stedelike woonstel of 'n plattelandse plaas is nie.

In sommige aanvalle word die slagoffers vroeg in die aand geteiken, dikwels kort nadat hulle na werk by die huis gekom het. Gedurende hierdie tyd doen die inwoners soms werk rondom die huis, en voel hulle meer ontspanne. Gedurende hierdie tyd word sekuriteitsdeure ook dikwels oopgelaat, of alarmstelsels afgeskakel. In ander gevalle teiken misdadigers huise in die vroeë oggendure. Hulle hoop om die eiendom ongemerk te betree en die slagoffers te verras terwyl hulle slaap.

Alhoewel enige persoon 'n slagoffer van hierdie tipe aanval kan word, is daar 'n paar stappe wat u kan neem om die risiko van 'n gewelddadige aanval op u huis te verminder. Deur 'n paar beginsels te verstaan, kan u stappe neem om u en u gesin te beskerm.

Die oorsaak van gewelddadige aanvalle

Die risiko van gewelddadige aanvalle sou nie bestaan het as dit nie vir die misdadiger was nie. Hierdie artikel behandel nie die redes waarom kriminele besluit om mense aan te val nie, maar daar is 'n paar ander aspekte rakende die krimineel wat u kan oordink.

Die gedagtes van die krimineel: Risiko teenoor Beloning

Soortgelyk aan die meeste mense, sal die aanvaller sy besluit om aan te val baseer op 'n skatting van risiko en beloning. Die aanvaller is bereid om die risiko te aanvaar in ruil vir die beloning wat ‘n aanval kan lewer. Dit spreek ook weer tot die motivering van die aanvaller, maar die beloning kan wissel van finansiële wins, om wraak neem op die slagoffer, of ‘n ander motivering. Die risiko wat die aanvaller aanvaar met die aanval sluit in om moontlik gedurende die aanval gevang of beseer te word, of selfs om te sterf.

Hierdie besluitnemingsproses wat misdadigers deurgaan is dikwels duidelik in die teikens wat hulle kies. Om die risiko te verminder, fokus aanvallers dikwels op individue wat beskou word as kwesbaar, insluitend bejaardes, mense wat alleen, of in afgesonderde huise woon. Om die beloning te verhoog, val die aanvallers dikwels huise of gesinne aan waar ‘n persepsie bestaan dat daar geld of waardevolle items soos wapens of elektroniese toerusting is.

Kriminele doen huiswerk

Om hierdie risiko-beloning balans vir moontlike tykens te verstaan, sal die aanvaller dikwels 'n aansienlike hoeveelheid navorsing en beplanning voor die aanval doen. Dit is dus belangrik om te besef dat 'n aanvaller oor die algemeen net 'n spesifieke teiken sal aanval wanneer hy voel die risiko-beloningsbalans word in sy guns gekantel; dit impliseer dus ook dat omstandighede tydens hierdie aanval, gebasseer op die aanvaller se persepsie, nie in die slagoffer se guns is nie.

Dit bring ons by die eerste strategie om u gesin te beskerm teen 'n gewelddadige aanval. Verander die risiko-beloning balans sodat dit blyk om nie in die aanvaller se guns te wees nie.

Gelukkig is die aanvaller ook maar net ‘n mens

Dit is moeilik om te glo dat 'n medemens in staat is tot die wreedheid en vlak van geweld wat dikwels aan slagoffers toegedien word tydens aanvalle. Oorlewendes van gewelddadige aanvalle noem dikwels dat hulle hulpeloos of magteloos gevoel het tydens 'n aanval. Dit is verstaanbaar aangesien die aanvaller slegs 'n teiken sal aanval wanneer hy vol vertroue is vir sy kanse op sukses. Met ander woorde, die aanvaller sal sy eie sterk punte gebruik om die swakhede van die slagoffers uit te buit.

Soms kan aanvallers ook tydens die aanval in 'n veranderde geestestoestand wees. Nie alleen sal die aanvaller moontlik senuweeagtig wees nie, maar sommige aanvallers gebruik dwelms of alkohol voor 'n aanval, en dit kan hul oordeelsvermoë benadeel en hul aggressievlak verhoog. Dit kan ook bydra tot hulle bereidwilligheid om die ondenkbare te doen.
Dit is egter belangrik om te onthou dat elke aanvaller ook net 'n mens is en dus ook swakhede het. Die tweede strategie om u familie te beskerm teen 'n gewelddadige aanval, is dus om u eie sterk punte te ontwikkel om die aanvaller se swakhede uit te buit.

Beskerm u gesin teen 'n gewelddadige aanval

Daar is ongetwyfeld sekere stappe wat u kan neem om u kanse op oorlewing te verbeter indien u uself in ‘n situasie bevind waar u die slagoffer van 'n gewelddadige aanval is. Dit is belangrik om uself te vergewis van wat u kan doen om u kanse op oorlewing te verhoog. Voorkoming is egter beter as genesing, en die res van hierdie artikel sal fokus op twee beginsels wat u kan gebruik om die risiko van 'n aanval te verminder.

Beginsel 1: Lae van Sekuriteit

Die beginsel met betrekking tot lae van sekuriteit word algemeen gebruik om kritiese bates en hoërisiko-teikens in die regering of privaat sektor te beskerm. Hierdie beginsel word egter nie altyd ten volle verstaan of toegepas deur huiseienaars om hul gesinne te beskerm nie.

Die basis van hierdie beginsel is dat, alhoewel u 'n sekere vlak van sekuriteit in u huis, tuin / plaas en omgewing verlang, is dit onmoontlik om die hele omgewing vry van enige bedreigings te hou. Dit sal nie net duur wees nie, maar u mag dalk nie die gesag hê om veranderinge in u groter omgewing te maak nie. U moet dus besluit wat 'n aanvaarbare vlak van sekuriteit is vir elke area van u omgewing, en prioritiseer dan die beskerming van die belangrikste gebiede. Dit kan gedoen word deur sones en lae van sekuriteit te gebruik.

Stap 1: Verstaan u eiendom en omgewing

Begin deur 'n tekening van u huis te maak. U het nie 'n amptelike plan nodig nie, 'n basiese tekening van die kamers en areas rondom u huis sal voldoende wees. ‘n Tekening soos die volgende sal voldoende wees.

Verstaan u eiendom

Identifiseer die verskillende kamers, ligging van vensters en deure, en kenmerke soos groot bome, paaie en voetpaadjies.

Stap 2: Identifiseer kwesbare gebiede

Die volgende stap is om die belangrikste of sensitiefste gedeelte van u huis te identifiseer. Hierdie area noem ons Sone 1 en dit is die area wat u die beste wil beskerm. In die meeste gevalle sal dit die hoofslaapkamer of badkamer van u huis wees. Hierdie sone moet ook u familie se 'paniekkamer' wees, en die kamer waarheen u sal vlug in geval van 'n aanval. Die omtrek van Sone 1 word Grens 1 genoem en verwys na die grens wat Sone 1 beskerm.

Die volgende stap is om die sone onmiddellik buite Sone 1 te identifiseer. Dit sal Sone 2 wees. Sone 2 is nog steeds 'n belangrike gebied, maar onderhewig aan minder sekuriteit en beskerming as Sone 1. Die grens van Sone 2 word Grens 2 genoem. Volg hierdie proses totdat u u hele huis en onmiddellike omgewing beskryf het.

Stap 3: Identifiseer toegangspunte

Neem nou tyd om die moontlike toegangspunte in elke grens te identifiseer - dit is punte waar iemand tussen sones kan kruis, en kan openinge, deure, hekke en vensters insluit. Nadat u dit gedoen het, sal u dalk met ‘n skets soos die onderstaande eindig.

Identifiseer die Sones en Grense

U tekening sal u 'n basiese raamwerk verskaf om die veiligheid van u huis te begin beplan. U het egter Beginsel 2 nodig om verder te gaan.

Beginsel 2: Die 4V's: Verjaag, Vind, Vertraag en Verdedig

Die 4V's van sekuriteit verwys na die proses om ‘n aanvaller te verjaag, te vind, te vertraag of uself te verdedig. U sal ander variasies op hierdie 4V's vind, met sommige skrywers wat addisionele V's byvoeg. Ons het egter bevind dat hierdie 4V's voldoende is om die beginsel van omtrekbeskerming te kommunikeer.

Elkeen van die V's verwys na 'n soort maatreël wat geïmplementeer kan word om u beskerming teen 'n veiligheidsbedreiging te verbeter. Elk van die V's word hieronder bespreek.

Verjaag

Die eerste V is om 'n bedreiging af te skrik. Verskeie metodes kan gebruik word, maar die doel van afskrikking is om 'n sielkundige stryd met 'n potensiële aanvaller te wen. As u die persepsie van 'n potensiële aanvaller kan beïnvloed om te glo dat die risiko-beloning balans nie in sy guns is nie, kan u die stryd wen voordat dit selfs begin het.

Vind

As u nie 'n potensiële aanvaller kon afskrik nie, wil u ten minste so gou as moontlik van sy teenwoordigheid bewus raak. Dit is waarna die ‘vind’-maatreël verwys. Die opsporing van ‘n aanvaller kan enige maatreël insluit wat u daarvan bewus maak dat iets nie reg is nie. Maatreëls om indringers op te spoor kan wissel van gereelde sekuriteitspatrollies om verdagte individue te identifiseer, CCTV-kameras, elektroniese sekuriteitsstrale rondom die omtrek van u eiendom, outomatiese veiligheidsligte, of selfs 'n hond wat blaf.

Vertraag

Die derde V verwys na die proses om 'n aanvaller te vertraag. Nieteenstaande of u bewus geraak het van ‘n aanvaller se teenwoordigheid, wil u steeds die aanvaller so lank as moontlik vertraag voordat hy sy teiken bereik. Dit bied nie net meer tyd om van sy teenwoordigheid bewus te raak nie, (indien u nie reeds van hom weet nie), maar dit gee ook meer tyd om te reageer voordat hy te veel skade kan veroorsaak. Fisiese sekuriteitshindernisse soos sterk sekuriteitsdeure, sekuriteitshekke of diefwering kan effektief wees om 'n aanvaller te vertraag.

Verdedig

Die finale V verwys na die daad om uself teen ‘n aanvaller te verdedig. Dit kan verskillende vorme aanneem, wat in beide tegnieke en toerusting wissel. Dit is egter belangrik om te weet hoe om uself teen ‘n aanvaller te verdedig. Om 'n geweer te besit, is nie goed genoeg as u nie weet hoe om dit veilig te gebruik nie. 'n Geweer is slegs 'n stuk gereedskap, daarom, as u besluit om 'n geweer te koop (of reeds 'n geweer besit), moet u ook behoorlike opleiding ondergaan om te leer hoe om dit veilig te gebruik, in stand te hou en te stoor.

Hierdie finale V is 'n belangrike deel van die 4V's, maar die gebruik van 'n wapen moet gesien word as u laaste uitweg.

Voeg dit alles saam

Noudat u bewus is van die lae van sekuriteit en die 4V's van sekuriteit, kan u dit gebruik om die tekening wat u van u huis gemaak het, te evalueer.

Stap 4: Lys die sones, grense en V's

Om voort te gaan, neem 'n vel papier en teken 5 kolomme. In die eerste kolom, lys die sones en grense wat u geïdentifiseer het op die tekening van u huis en omgewing. Begin met Sone 1 en Grens 1, en lys al die Sones en Grense wat u op u tekening gemaak het. Aan die bo-kant van die oorblywende 4 kolomme, lys elkeen van die 4V's. U blad moet ongeveer soos die volgende tekening lyk:

Lys die Sones, Grense en Vs

Gaan nou deur die lys en identifiseer enige bestaande veiligheidsmaatreëls wat reeds in elkeen van hierdie sones en grense bestaan. Oorweeg enige aktiewe of passiewe sekuriteitsmaatreëls, insluitend alarms, heinings, hekke, diefwering of veiligheidsligte.

Sodra u dit gedoen het, gaan weer deur die lys, maar hierdie keer werk van die onderkant van die lys na die bokant, en oorweeeg die roetes wat 'n aanvaller kan neem om Sone 1 te bereik. Soek vir enige gapings waar u voel bykomende sekuriteitsmaatreëls vereis word.

Onthou, u hoef nie al die V's in al die sones aan te spreek nie. Maak egter seker dat 'n moontlike aanvaller ten minste 'n verskeidenheid maatreëls oor die verskillende sones sal teëkom.

Hou ook in gedagte dat u nie noodwendig in Sone 1 gaan wees tydens ‘n aanval nie. ‘n Aanvaller sal ook moontlik die kortste roete na die teiken probeer vind, en hy sal dus nie noodwendig deur al die Sones in die volgorde soos dit gelys is, beweeg nie. Let dus veral op gebiede waar 'n enkele grens tussen 'n hoë en lae genommerde sone bestaan – soos byvoorbeeld die grens tussen Sone 1 en Sone 4 by die hoofslaapkamer in die bostaande skets. Enige opening in dié grense moet besonder goed beveilig word.

Sodra u dit gedoen het, kan u bladsy moontlik soortgelyk aan die onderstaande lyk:

Lys wat reeds bestaan en wat nog nodig is

Laastens, as u bevind dat u bykomende maatreëls by enige van die sones of grense moet byvoeg, moet u die geïdentifiseerde maatreëls prioritiseer en 'n plan maak om dit te installeer. As u begrotings of tydsbeperkings in die gesig staar, breek die maatreëls op in kleiner projekte, en begin deur te doen wat u kan.

Belangike aspekte om van kennis te neem

Daar is drie addisionele aspekte waarvan u moet kennis neem.

Kwaliteit ontwerp en konstruksie: As u fisiese veiligheidsversperrings soos diefwering of hekke moet installeer, maak seker dat dit van ‘n hoë gehalte is; beide in ontwerp en vervaardiging. U sal verbaas wees om te sien hoe 'n persoon deur diefwerking of deur ‘n gaping in 'n veiligheidshek kan klim. Wees ook gerus dat 'n sterk hek ook 'n groot verskil kan maak om aanvallers buite te hou.

Ontsnaproetes: Tweedens, wees versigtig om nie uself in u eie huis vas te keer nie. Hou altyd 'n ontsnappingsroete vir uself oop. Dit kan gedoen word deur ‘n skuifhek as diefwering by een of twee vensters te installer. Dit is belangrik dat u die sleutel vir die uitgang binne bereik, maar steeds veilig, sal bewaar. Hierdie uitgang sal verseker dat u in die geval van 'n brand, of as die ander uitgange geblokkeer word, uit u huis kan ontsnap. Dieselfde geld ook vir vensters op die tweede verdieping van u huis.

Ontruiming: Ten slotte, besef ook dat, ongeag hoeveel sekuriteitsmaatreëls u implimenteer, daar situasies is waar dit nie veilig sal wees om tuis te bly nie. In hierdie gevalle moet u u huis verlaat en na 'n veilige area toe gaan. Ons bespreek dit in meer besonderhede in ‘n ander artikel getitel “Beginsels van persoonlike voorbereiding”.

Wat volgende?

Noudat u aan hierdie beginsels bekend gestel is, sit tyd opsy en evalueer die veiligheid van u huis. As u enige leemtes identifiseer, neem stappe om dit reg te stel en oorweeg opleiding in selfverdediging of wapenhantering. Bespreek basiese sekuriteitsdissiplines met u gesin, insluitend om deure gesluit te hou en die belangrikheid van situasionele bewustheid. Hierdie maatreëls kan help om die risiko van ‘n gewelddadige aanval op u en u familie te verlaag.

Ten slotte, as u hierdie artikel nuttig gevind het, neem asseblief die tyd om dit met ander te deel. Deur hierdie artikel te verprei of op sosiale media te deel, kan u moontlik help om 'n ander familie te beskerm teen 'n geweldadige aanval.


Vir meer inligting oor persoonlike voorbereiding, oorlewing, en rampgereedheid besoek Leef Voorbereid en Prepare with Foresight.

Plaas gerus u terugvoering of vrae in die kommentaar hieronder.


U mag dalk ook belangstel in:


Coin Marketplace

STEEM 0.16
TRX 0.15
JST 0.028
BTC 54370.47
ETH 2283.51
USDT 1.00
SBD 2.33